Marlene Malan



Marlene Malan het het tale – Afrikaans en Nederlands, Engels en Duits – asook vertaling aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer. Daarna het sy eers as taalpraktisyn gewerk, voordat sy byna drie dekades joernalis was by verskeie koerante. Nadat sy en haar eggenoot, Daniel Hugo, ’n paar jaar gelede die Kaap vir Prins Albert in die Groot-Karoo verruil het, vryskut sy voltyds as joernalis, taalversorger, vertaler en proefleser. Toe sy en haar goeie vriend, Hannes Visser, Turksvy Publikasies in die Covid-19-grendeltyd begin het, het sy geweet sy het uiteindelik tuisgekom: Dit is om haar passie vir goeie boeke en teksversorging te kombineer. In haar vrye tyd sal jy haar in haar vetplanttuin raakloop.





HANNES VISSER



Hannes Visser is n skrywer en digter wat Turksvy Publikasies in 2020 saam met Marlene Malan gestig het.


Hy het reeds verskeie pryse vir sy gedigte, kortverhale en joernalistieke werk gewen. Sy debuutdigbundel, Die jaar toe pa..., hetvm uitstekende resensies ontvang en hy het pas n roman aan n uitgewer voorgelê en werk aan 'n tweede een.


Hy is tans die redakteur van Oudtshoorn Courant.





Anita van der Walt



Anita van der Walt woon aan die voet van Tafelberg. Sy is ’n mediese dokter met ’n liefde vir skryf. Sy hou van boeke, klassieke musiek en keramiekkuns. Weg van die woelinge van haar praktyk oes sy olywe digby die Baviaanskloof vir smullekker olyfolie. Haar seun en dogter is haar trots.


Versindaba en die Tuin van Digters het digkuns vir haar ontsluit. Hierdie Maandag is abstrak is haar debuutbundel waaraan sy die afgelope aantal jare gewerk het. Sy het meer as 70 van haar gedigte asook ’n aantal haikoes en tankas vir die bundel uitgesoek en versorg. Die gedigte neem die leser op ’n reis deur die natuur, na plekke soos Italië en Nederland en ook na binne waar die liefde, afskeid en die dood besoek word.





Coen Basson



Coen Basson is in die Kammanassie-distrik naby Uniondale gebore. Nadat hy hier gematrikuleer het, verwerf hy ’n BA (Hons) aan die Universiteit van die Vrystaat en word ’n onderwyser, met ’n voorliefde vir geskiedenis en tale. Ná ’n aantal jare in die onderwys gaan boer hy op hulle familieplaas in die Kammanassie. Hy is tans ’n finansiële adviseur op Oudtshoorn.


Sedert sy skooldae het Coen ’n liefde vir lees en skryf en was op universiteit joernalis en redakteur van die studentekoerant, Irawa.


Coen het in ’n huis van stories grootgeword, met ’n ma en pa wat bobaas storievertellers was. Hy het vir etlike jare reisartikels vir die Burger geskryf en dikwels sy eie ervaringe as 4x4-toeroperateur in Suid-Afrika en die buurlande vir sy artikels gebruik.


Hy spits hom deesdae toe op die skryf van fiksie en is ’n gereelde deelnemer aan die landwye skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar hy al eervolle vermeldings verdien het. Twee van sy kortverhale is ook onderskeidelik in 2017 en 2021 gekeur vir opname in die US Woordfees se jaarlikse Woordfeesbundel.


Coen slyp sy skryfvernuf deur gereeld slypskole by te woon. Hy is ook die sameroeper van die Klein-Karoo Skryfforum wat maandeliks vergader. Sy eerste kortverhaalbundel, Tussen ons, verskyn binnekort by Turksvy. Intussen is hy besig om aan ’n roman te skaaf voordat dit vir publikasie voorgelê word.





Irize Loots



Irize Loots is in Johannesburg gebore. Sy het musiek aan die Universiteit van Suid-Afrika gestudeer en daarna aan die Universiteit Stellenbosch ʼn BA-graad en diploma in verhoogbestuur verwerf. Sy woon sedert 1993 in Amsterdam waar sy ʼn kursus in Gestaltterapie voltooi het. Sy het ʼn terapiepraktyk en werk deeltyds by ʼn uitgewer van wetenskaplike, tegnologiese en mediese tydskrifte. Sy gee ook klavierles.


In 2016 publiseer sy twee novelles, Vrou in rooi en Sy was Siela. In 2018 publiseer Naledi haar debuutroman, Dromers, wat in 2020 vir die ATKV-Woordveertjies se afdeling vir liefdesromans genomineer is.


Van Irize se Afrikaanse gedigte is in die laat tagtigs, toe sy student op Stellenbosch was, opgeneem in universiteitspublikasies, onder andere in Penseel, amptelike tydskrif van die Afrikaanse Studiekring (ASK). Tussen 1999 en 2001 is ʼn hele aantal van haar gedigte in Afrikaans, Nederlands en Engels gepubliseer in publikasies van haar Gestaltskool in Amsterdam en ʼn paar het ook verskyn in ʼn aanlyn Gestalttydskrif, To-C Magazine.


vlieg vorentoe is haar debuutdigbundel.





Jurina Aucamp



Jurina Aucamp was 30 jaar in die onderwys, met die laaste deel van haar loopbaan by Laerskool Gene Louw in Durbanville. Sy het Ronnie die renostertjie geskryf na aanleiding van ‘n dogtertjie se liefde vir renosters. Haar volgende twee kinderboeke, Truida die volstruis se grootste wens en Brommie die bromvoël verskyn ook vanjaar by Turksvy. Ronnie gaan boonop binnekort in Engels gepubliseer word: Die vertaling is byna afgehandel.


Jurina is getroud met Bennie Aucamp, afgetrede skoolhoof van Laerskool Eikestad in Stellenbosch. Hulle het einde verlede jaar na Hartenbos verhuis. Hulle het drie kinders en vyf kleinkinders. Haar liefde vir haar kinders en kleinkinders is vir haar ’n groot inspirasie om te skryf en harte en gesinne te bereik.





Maretha van der Westhuysen



Maretha van der Westhuysen woon op ’n plaas buite Oudtshoorn. Sy het in ’n huis met boeke grootgeword, en deur haar skoolloopbaan in sewe verskillende skole was lees en skryf die konstantes wat tot haar studie in tale aan die Universiteit van die Vrystaat gelei het. Voordat sy getroud is en voltyds boervrou geword het, was sy onderwyseres by Paarl Gimnasium. Hoewel sy voltyds ma van ’n dogter en tweelingseuns is, deesdae ook ouma van vyf kleinkinders, het die skryfgogga altyd bly knaag en in 2010 teken sy die geskiedenis van haar kerk op in die boek ’n Eeu van genade: Eeufeesbundel van die NG Gemeente Herold.


As ywerige en leergierige lid van die Klein-Karoo Skryfforum lewer sy maandeliks kortverhale en skryf ook in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisie. In 2017 is haar verhaal “Woestynvrou” as wenner in die afdeling vir ongepubliseerde skrywers aangewys. Nog ’n kortverhaal, “’n Ander lewe”, word in 2018 in die bundel kortverhale van die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees opgeneem.


Albei verhale is deel van hierdie debuutbundel waar die veelvlakkigheid van die samelewing uit die perspektief van vroue waargeneem word. Die verhale wiseel van ’n gewapende aanval op ’n huis, selfdood en die laaste oomblikke van ’n bejaarde tot ’n sensuele Turkse bad. Deur haar venster neem die leser sonder pretensie op ’n geloofwaardige reis deur die oë van vroue. Dit beteken allermins dat die verhale slegs vir vroue geskryf is.



Ons sal graag van jou wil hoor
Kontak ons gerus